Só ‘sien’ blindes grootvoete

Jeanne-Marie Versluis

blindes 5Hazyview. – ’n Blinde regsadviseur was so in vervoering toe hy twee mak olifantbulle gestreel en gevoer het dat hy nou graag aan ’n leeu wil vat.
Ronald Herrendorfer (51), wat in 2004 blind geword het weens ’n motorongeluk, is ’n regsadviseur in die kantoor van Mpumalanga se premier.
Hy en nog drie blinde mense is verlede week saam met die media na van dié provinsie se toeriste-attraksies geneem as deel van Toerismemaand. In Hazyview het hulle te doen gekry met twee olifantbulle met groot harte – letterlik (die hart weeg sowat 28 kg) én figuurlik.
Ses “oorskot”-olifante van elders word lewenslank by Elephant Whispers versorg. Hulle is mak gemaak en opgelei om opdragte uit te voer, soos om te gaan lê.
Een van die bulle, Medwa (19), het gaan lê sodat die toeriste hom deeglik kon bevoel en bekyk – natuurlik op voorwaarde dat hy dan heeltyd kos as beloning gevoer word.
Sertorio Mshothola, eienaar van Ntwanano-toere, neem blinde mense sedert 2007 op toere wat hulle met plante en diere in aanraking bring, maar die belangstelling in sulke toere het nog nie toegeneem nie.
“Dis ’n stadiggroeiende proses,” sê Mshothola.
“Dis ook nie ’n one-size-fits-all-toer vir blindes en mense wie se sig ingeperk is nie. Ek het byvoorbeeld ’n blinde mens gehad wat aan dinge wou vat en ruik. Nog een op dieselfde toer het nie daarin belang gestel nie en wou eerder na geluide luister.”
Herrendorfer het gesê dit was moeilik om braille te leer toe hy in ’n gevorderde stadium van sy lewe blind geraak het.
Hy het toe eerder nege maande lank ’n kursus in Pretoria geloop om rekenaargeletterd te word met ’n program wat op spraak gegrond is.
“Ek kan enige regsdokument op die internet kry. Min, indien enigiets, is ’n uitdaging vir ’n blinde mens in die regswêreld.”
“Ek geniet my werk. Dit is baie meer vervullend as toe ek kon sien.”
Ná die uitstappie het Herrendorfer aan Mshothola gesê: “Now I must touch a lion.”
“Ja, maybe a stuffed one!” het Mshothola gelag.

blindes 6 blindes 7

Die blinde Ronald Herrendorfer van Nelspruit bevoel die tand van Tembo (28), ’n olifantbul wat meer as 6 ton weeg. Foto’s: liza van deventer

Doris Mgwenya (met die ligblou mou), wat in 2002 weens siekte blind geword het, word deur André Kotze van Elephant Whispers gehelp om oor die olifantbul Medwa se poot te streel. Mgwenya het telkens uit haar maag gelag wanneer sy aan ’n olifant geraak het. Sy woon in Pienaar, sowat 30 km van Nelspruit.